Wanneer mense jou benadeel

Jy moes seker al agtergekom het dat die lewe nie regverdig is nie.  Partykeer maak mense jou seer, of hulle benadeel jou agter jou rug, of hulle vat jou goed, hulle besteel jou van dit waarvoor jy so hard gewerk het, hulle verwerp jou, hulle laat jou minderwaardig voel en verkleineer jou.  Hulle verbreek ooreenkomste wat hulle met jou aangegaan het.  Mense doen partykeer baie slegte dinge aan ander mense.  En dikwels is ek en jy aan die ontvangkant.

Wat moet ons doen as mense ons benadeel.  Natuurlik is daar ‘n klomp natuurlike reaksies wat menslik gesproke verstaanbaar is.  Ons raak kwaad.  Briesend.  Ons raak aggressief.  Ons wil wraak neem.  Ons wil die ander persoon ook so seermaak of benadeel soos wat ons seergemaak en benadeel is.  Dit is alles spontane menslike reaksie.

Maar Jesus stem nie met ons saam nie.  Petrus het Jesus daaroor uitgevra en ons leer daarvan in Mattheus 18:21-22:

Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”
Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”

Wat gebeur gewoonlik (en hopelik) wanneer ons swaarkry of wanneer ons benadeel word?  Ons word nader aan God gebring.  Ons gaan soek Hom weer op en vernuwe weer ons verhouding met Hom.  Ons kom agter dat by Hom alleen is daar vir ons uitkoms en vrede.  Mense stel ons teleur.  Mense kan ons nie help nie.  Net by God is daar uitkoms.

So, as mense wat jou seermaak jou nader aan God bring, hoekom sal jy hulle dan nie vergewe nie?  Wat ‘n wonderlike resultaat kry ons nie uit swaarkry nie – ons verhouding met God word verdiep.  En Jesus sê ook duidelik hoe hierdie saak dan verder hanteer sal word:

In Mattheus 7:1 sê Hy: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”

In Johannes 5:22 sê Hy: “Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat.”  Jesus Christus het volmag om oor die mens te oordeel.  As ons self mense oordeel probeer ons dus Jesus se plek volstaan.  Ons wil dan self God wees.  Dit mag ons nie.  Ons is mens.  Sondige mens.  God is God.

Daarom moet ons God se genade aanvaar wat in Jesus Christus ook vir ons eie sonde ingestaan het aan die kruis, en Sy vertroosting deur die Heilige Gees ons eie maak.  En ons moet almal wat ons kwaad aandoen vergewe, want ook hierdie seerkry dinge gebruik God om ons teenaan Hom te trek en op Sy pad te stuur volgens Sy wil.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s